Jeug

Kategese tye

Junior Jeug (3jr – Gr. 6) 08:30 – 09:30:
Tydens die 08:30 erediens, waar die kinders die eerste deel van die diens bywoon en dan na hul verskeie klassies gaan.

Senior Jeug  & Belydenisklas (Gr. 7 – Gr.11) 17:30 – 18:00:
Hulle woon dan die 18:00 erediens by saam met hul ouers of klasmaats.

 

Ons filosofie

Beide ons Junior en Senior jeugbedienings is gebaseer op die beginsel van verhoudings. Ons glo dat jongmense deur goeie positiewe verhoudings verander en beïnvloed word. En daarom doen ons spesiale moeite om seker te maak dat hul op verskeie vlakke aan positiewe verhoudings blootgestel word. Ons doen dit op die volgende maniere:

 

Kategese

Aangesien ons werk om langtermyn verhoudings te vestig is dit vir ons belangrik dat dieselfde kategeet van Gr. 1 – 6 dieselfde klassie het en dan weer dieselfde kategeet van Gr 7 – 11. Ons spandeer ook ekstra moeite om seker te maak dat die materiaal relevant en goed uitgewerk is. Dit beteken dat ons soms self lessies uitwerk en soms vanuit ’n boekie werk, afhangende van die seisoen. Op dieselfde beginsel probeer ons ook om die kategese klasse te laat aansluit by eredienste. Vir groot dele van die jaar stem die tema van die 8:30 diens en junior kategete en die tema van die 18:00 diens en senior kategete met mekaar ooreen.

 

Kampe

’n Tweede vlak van verhouding gebeur op ons kampe. Ons het elke jaar ’n junior en senior kamp. Op hierdie kampe handhaaf ons ’n goeie balans tussen goeie pret en ernstig bymekaar leer. Die kategete gaan ook saam op hierdie kamp om die verhoudings verder te versterk. ’n Derde kamp wat ons hou is die Belydeniskamp. Hierdie verpligte kamp is gefokus op dissipelskap en wat dit beteken om ’n dissipel in jou gemeenskap en kerk te wees.

 

Koffiekroeg aande

Een keer per kwartaal hou ons ’n lekker saam-kuier geleentheid vir die junior en senior jeug onderskeidelik. Hierdie aande is werklik net gefokus op lekker saamkuier en mekaar beter leer ken. Hierdie geleenthede sal vroegtydig in die Sondag afkondigings wees om seker te maak dat niemand op die geleentheid uit mis nie.

 

Pretweek (Junior Jeug)

In die Junie, Oktober en Desember skoolvakansie het ons drie-dag Pretweke. Die fokus hiervan is om, gekoppel aan ’n tema, saam te leer te speel, te sing en sommer ook lekker te eet. Die Junie en Desember vakansies is vir al die junior jeug en die Oktober vakansie se fokus is spesifiek op Gr. 4-6. Wees ook op die uitkyk vir advertensies hieroor.

 

Namibië uitreik (Senior Jeug)

Tydens die Junie skoolvakansie gaan ons saam met NG Kerk Tableview en NG Grootekerk op ’n twee weke uitreik na die Kaokoland in die noorde van Namibië. Die blootstelling wat die jongmense hier kry is van onskatbare waarde. Dit is ook ’n uitstekende plek om positiewe verhoudings te bou en geleentheid vir introspeksie. Die kulturele blootstelling help ook om ons eie lewe in perspektief te plaas. Natuurlik kry ons ook ’n geleentheid om die goeie nuus van Jesus met mense te deel.