Batavia str 3, Bloubergstrand - Tel nr: 021 554 1290 - Faks nr: 086 591 5147 - E-pos: ngkblouberg@mweb.co.za

Tuis Wie is Ons? Erediens Bedienings Jeug Groepe Aktueel Kontak

Die gemeente het drie leraars, elkeen met sy of haar eie talente en gawes.   Thinus Britz is  1996 hierheen beroep as medeleraar met spesifieke fokus op die jeug en jongmens bediening.  Van toe af het baie verander.  In sy persoonlike lewe was die grootste verandering toe sy eggenote Elna in  2011 in ‘n motorongeluk oorlede is. Haar afsterwe het nie net vir hom en sy kinders radikaal beinvloed nie, maar het ook op die gemeente ‘n groot impak gehad.  Thinus het twee kinders.  Anlé is die bestuurder van kliënte verhoudings by ‘n hotel in Menlyn.  Cornelius is ‘n geregistreerde berader.  Thinus se rol in die gemeente het ook intussen baie verander.  Anders as 20 jaar gelede is hy nou die oudste van die drie leraars.  Sy primêre fokus is op pastoraat, lering en bestuur.


Elmarie Dercksen is in 2006 na die gemeente beroep.  Op daardie stadium het sy die verantwoordelik vir die jeugbediening oorgeneem en haar gawe vir musiek het onmiddellik die gemeente se lofprysing en aanbidding getransformeer.  Oor die afgelope 10 jaar het haar lewe en bediening ook baie verander.  Sy is in 2012 geskei.  Die volwasse manier waarop hulle die egskeiding hanteer het, het dit moontlik gemaak dat sy met haar bediening kon voortgaan.  Hulle het ‘n baie gelukkige en geliefde seuntjie, Konstant, wat volgende jaar graad vier toe gaan.  Haar primêre fokus is die uitreikaksies van die gemeente (Diensgetuienis) en steeds die lofprysing en aanbidding.  Sy doen ook heelwat pastoraat.


Nadat beide Thinus en Elmarie die meeste van die seer van hul verlede verwerk het, het hulle agter gekom dat hulle gevoelens vir mekaar ontwikkel het.  In 2014 is hulle na ‘n kort romanse getroud.  Hulle is nou saam met hul kinders en ‘n hond genaamd Sparkie, ‘n baie gelukkige saamgestelde familie. 


 

Marietjie Steyn het in 2012 na die gemeente gekom as finalejaar student.  Aan die einde van 2012 het die kerkraad met haar ‘n kontrak gesluit om vir 2013 te dien as jeugleraar.  Vanaf 2014 is sy ‘n voltydse leraar van die gemeente.  Sy is getroud met Niel Steyn wat ‘n leraar is by ons buurgemeente, die NGK Tableview.  Hulle verwag om, vroeg in 2017, hul eersteling ryker te word.  Gelukkig is hul golden retriever genaamd, Filos, al twee jaar oud en minder van ‘n handvol. 

Haar primêre fokus is die jeugbediening en die bediening aan die jong werkendes.  As gevolg van haar passie vir mense wat op die rand van die samelewing leef, is sy ook baie betrokke by die gemeente se uitreik na juis hierdie mense in ons omgewing.  Hierdie bediening doen die gemeente saam met die NGK Tableview. Marietjie en Elmarie deel al meer die die verantwoordelikhede van die jeugbediening en die diensgetuienis bediening met mekaar.  Beide van hulle het ‘n passie vir beide diè bedienings.