Gemeente Brief – 10de Maand

Dis lente. So ‘n lente het ons lank laas gehad. Rietvlei is vol, die koring en canola lande is pragtig. Orals is dit nat en groen en die lelies staan die vleie vol. Die Here het vir ons uitkoms gegee. Ons het ook ‘n paar kosbare lesse geleer, soos dat watersekuriteit nie altyd gewaarborg is nie. Ons moet versigtig omgaan met die water wat ons het. Daar is sommer ‘n nostalgie in ons harte oor al die ander kosbare bronne wat ons soms as vanselfsprekend aanvaar. ‘n Lente soos hierdie is ‘n goeie geleentheid om dankbaarheid te toon en die mooi in ons lewens te vier.

As gemeente het ons reeds begin om dit te doen met die Vonkelfees van 4 Augustus. Dit was ‘n oggend vol outydse sjarme met ‘n tweedehandse boek-verkoping, fotorame, tuisbebak en “vintage” klere. Milan Murray se teenwoordigheid en die handgemaakte souttert en brownies het die oggend ‘n vrolike hedendaagse atmosfeer gegee. Vrydagaand 14 September is dit weer tyd vir Van Bach tot Vandag! Ons kerkie se akoestiek is gemaak vir goeie musiek. Die orrel gaan weer die hoofinstrument wees met Eon Malan agter die klawers. Daarmee saam word daar reeds weekliks hard geoefen aan musiek met die orkes, solos en duette. Die program is so saamgestel dat musieksmake van klassiek tot modern bevredig sal wees. Kom geniet ’n heerlike kaas & wyn kuier na die tyd.

Op 26 Oktober hou Stefan Jacobs sy eerste solo-kunsuitstalling in die kerksaal. Hy is reeds wêreldbekend vir sy fantastiese skilderye van die wildlewe van Afrika. Gaan kyk gerus na sy Facebook-blad vir ‘n voorsmakie. Die tema vir hierdie uistalling is On the sixth day, He favoured Africa. 25% van wat die uitstalling inbring, skenk die skilder aan die gemeente. Om aan hierdie aand nog meer kleur en opwinding te verleen het ons vir Pedro Kruger oorgenooi. Pedro is ‘n jarelange vriend van ons gemeente. Hy bied op daardie aand ‘n Klavierkuier met Pedro in die kerk aan. Die kunsuitstalling is van die middag 17h00 af reeds gereed om besigtig te word. Vir die wat ‘n kaartjie koop na Pedro se kuier, is daar ook die bonus om dan die amptelike opening van die kunsuitstalling by te woon en saam met Stefan en Pedro ‘n glasie wyn te geniet en te smul aan die eetgoed wat deur Stefan se broer, ‘n bekroonde sjef, voorberei gaan word. Ook in Oktober begin ons koor te oefen vir die Kerssangdiens op 25 November. Daaroor meer in die volgende brief.

Dit is nodig om meer inligting te gee oor die vul van die orrelispos. Met Danelle se aftrede uit voltydse diens was ons bevoorreg om reeds kennis te dra van ‘n paar goeie orreliste in ons gemeente. In daardie stadium was Arno Levin vir verskeie redes die beste keuse om die pos te vul. Danelle het toe ingestem om die pos van Aflosorrelis te aanvaar, of eerder die pos van ‘impakspeler’ soos ons verkies het om dit te noem. Met die nuus dat Arno ons gaan verlaat ter wille van ‘n wonderlike loopbaangeleentheid in Londen, kon ons gelukkig terugval op ons bekwame impakspeler.

Ons eerste gedagte was om weer plaaslik te adverteer vir die vul van die voltydse pos en ons was bederf met spoedige reaksie.  Veral twee van die aansoekers het uitgestaan waarvan Eon Malan een was.  Nadat ons al die aansoeke goed bestudeer het, het ons vir Eon ‘n aanbod gemaak.  In daardie stadium was die enigste voorbehoud dat hy eers ter wille van sy Ph.D. vir ses maande na ‘n Universiteit in Amerika moes gaan.  Na ‘n gesprek met Danelle, wat toe ingestem het om die pos te vul totdat Eon op 1 Junie 2019 kon oorneem, is daar ‘n ooreenkoms met Eon opgetrek.  Ons was baie opgewonde en dankbaar dat alles so mooi uitgewerk het.  Ongelukkig kry Eon se lewensmaat toe ‘n aanbod om sy loopbaan teen die einde van 2019 in Australië voort te sit.  Daar sneuwel die ooreenkoms met Eon.  Die plan vir nou is om met die ooreenkoms wat ons met Danelle het voort te gaan en dan wyer te adverteer.  Hierdie advertensie sal in die twee uitgawes van die Kerkbode in September verskyn.  Bid asseblief saam met ons vir die geskikte persoon.

In ons vorige brief het ons die kommer oor die gemeente se finansies gedeel.  Soos met die reën het die Here ook hier vir ons uitkoms gegee.  Alhoewel ons steeds geen groei in ons inkomste in vergelyking met die vorige jaar verwag nie, is ons wel in staat om in hierdie stadium al ons verpligtinge en drome te finansier.  Sover is dit steeds net die leraars se bonusse wat nog op ys gehou word.  Dit is alreeds vir ten minste vyftien jaar die gebruik by ons om hierdie tyd van die jaar te praat oor ‘n uitdaging tot ‘n moontlike Tiende maand-dankoffer.  Hierdie fondse, en die deurkollekte op Kersdag, gee vir ons die vermoë om ons uitgebreide Diensgetuienis-bediening te bekostig.  Hierdie bedienings sluit die Maatskaplike werker se kantoor, en ons gesamentlike betrokkenheid met Tableview gemeente by die Echo Jeugontwikkeling, in.  Die uitdaging is om ter wille van hierdie bediening die gemeente te seën met ‘n eenmalige tiende van ‘n tiende van ‘n maand se inkomste.  Verlede jaar het 60 Gemeentelede hierop gereageer.  Vir die eerste keer in die vyftien jaar moes ons ander fondse gebruik omdat hierdie bedienings vir ons te belangrik is om te verwaarloos.  Oorweeg dit asseblief om hierby betrokke te wees.  Kom kyk ook gerus hoe ons hierdie fondse spandeer en wie almal hierdeur versorg word.  Natuurlik is ons hele begroting ter insae vir enige lidmaat.  Ons glo dat ons goeie rentmeesters is van die fondse aan ons toevertrou.

Kyk asseblief na ons nuut oorgedoende webtuiste en volg ons op ons Facebook-blad vir al die nuutste inligting oor wat alles gebeur en waaroor gedroom word.  Vir die hele personeel-span is dit steeds ‘n wonderlike voorreg om deel van hierdie bediening in Bloubergstrand te wees.  Daar is ‘n atmosfeer van wedersydse respek en waardering vir elkeen se bydrae en gawes.  Ons getuig ook dikwels teenoor mekaar van die waardering en liefde wat ons van gemeentelede ontvang.  Dit inspireer en motiveer ons gereeld.  Hou asseblief aan om met ons te kommunikeer.  Ons is ook glad nie fyngevoelig vir kritiek nie, sê gerus as iets pla.  Die belangrikste is dat ons almal saam ons afhanklikheid van die Gees van die Here erken en voor ons Here buig.  Dankie vir elkeen wat saam met ons op hierdie reis van aanbidding van ons Verlosser en bediening aan Sy kinders is.

“Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde in dade oorgaan.”

Namens die kerkraad

Ds Thinus               Ds Elmarie             Ds Marietjie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *