Ons het die voorreg om aan jongmense tussen die ouderdom van 18 en 25 ’n ondersteuningsisteem te bied wat aan hulle die geleentheid gee om hulle plek in die samelewing te vind. Hierdie ondersteuning geskied deur gemeenskap, goedkoop behuising, mentors, lewensvaardighede, maar bowenal wonderlike vriendskappe. Jongmense wat ʼn behoefte het om ʼn bydrae te lewer woon as mentors in die kommunes en saam met hulle woon jongmense wat verdere ondersteuning nodig het nadat hulle in ʼn kinderhuis of rehabilitasie sentrum was. Hierdie twee groepe jongmense woon dan saam in gemeenskap waar hulle hul tyd, besittings en emosies met mekaar deel. Daar is geen verdere programme of strukture nie. Ons glo dat die groot verandering in mense se lewens organies in gemeenskap gebeur. Kos is wel belangrik en daarom eet al die huise elke Donderdagaand saam. Enige iemand is by hierdie etes welkom. Die huise het ook ʼn groot ondersteuningsisteem in die groter gemeenskap. Die etes is ʼn geleentheid waar almal bymekaarkom en saam kuier en groei.