Gemeenskapsete

Kontakbesonderhede

Niel Steyn – niel@echoyouth.co.za / 084 688 1080

 

 

Beskrywing / Storie van die projek

Kos maak almal gelyk, want almal moet eet. Ons visie is om verhoudings te bou deur mekaar in die oë te kyk oor ’n bord kos. Hier gaan dit nie oor kos uitdeel nie, dit gaan oor saameet.

Reeds op 22 Julie 2013 het ons ’n Gemeenskapsete in die kerksaal van NG Kerk Tableview begin. Die fokus van die ete was en is om mense in “nood” ’n geleentheid te gee om deel te wees van ’n gemeenskap. Met “nood” bedoel ons enige iemand wat eensaam is, ’n vreemdeling is in die land, nie in ’n tradisionele erediens welkom voel nie, honger is, ’n ruimte soek waar hy homself kan wees ensovoorts. Die ete het intussen van die oorspronklike 15 gegroei na ’n gemeenskap van tussen 50 en 60 mense wat elke Maandagaand saameet. Sedert die eerste bymekaarkoms het ons ook nog nooit ’n Maandagaand oorgeslaan nie. Die aanvanklike fokus was om gemeenskap te vestig en uit te brei. Kort na die aanvangs van die ete het die deelnemers egter begin vra dat ons ook saam Bybel lees en sing. Vandag is dit kerk. Met ’n liturgie (op ons manier), Skriflesing, Gebed en natuurlik nagmaal (of sommer net ’n lekker warm bord kos).

 

Huidige behoeftes / Hoe om betrokke te raak:

  1. Kom eet saam op ’n Maandagaand, 18:30 by Tableview Kerk, Greylaan 41
  2. Bied aan om een keer in 6 weke een bak kos vir 10 mense te maak