Bedieningspan

Leraars

Elmarie Dercksen

Leraar

083 276 4944.
elmarie@ngkbloubergstrand.co.za

Elmarie het in Bloemfontein grootgeword en eers musiek studeer, en daarna teologie. Sy is sedert 2005 leraar by die NG Kerk Bloubergstrand, haar derde gemeente. Sy is lief vir lees en skryf; gaan kyk gerus na haar blog by bloubloggie.wordpress.com. Sy bly leergierig en verwerf in 2018 haar meestersgraad in Ou Testament (Gender&Health). Sy is verantwoordelik vir die musiek in die gemeente (koor en orkeste), asook vir Blouberg Kids en Blouberg Jeug. Elmarie is getroud met Thinus, en hul saamgestelde gesin woon in Melkbosstrand.

Thinus Britz

Leraar

Thinus het in die Oos-Kaap grootgeword, en gematrikuleer in Humansdorp.  Hy studeer teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, en dien as kapelaan in die weermag vir vier jaar, waarna hy die beroep aanvaar na die NG Kerk Bloubergstrand.  Hy is hoofsaaklik verantwoordelik vir bestuur en administrasie in die gemeente, en sy voorliefde is pastorale versorging. Thinus is getroud met Elmarie, en hulle saamgestelde gesin het drie kinders: Anlé, Cornelius en Konstant.  Thinus se groot liefde is eintlik sy motorfiets, waarmee hy gereeld avontuur beleef.

Stefan de Klerk

Leraar

Stefan het in Namibië groot geword en het teologie by die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy is sedert 2019 by NG Kerk Bloubergstrand betrokke. Hy is in 2020 gelegitimeer  en is vanaf 2021 as Proponent by die gemeente aangestel. Op 13 Maart 2022 word hy hier as predikant bevestig. Hy is verantwoordelik vir die Jongwerkende bediening, Selgroepe en die Aanlyn bediening in samewerking met Franselene. Hy is tans besig om verder te studeer in die studie rigting van Kliniese Pastoraat. Wanneer hy nie werk nie is hy lief vir gedigte skryf en saam met vriende en familie kuier.

Kantoor:

Lienie & Franselene

Admin (Skriba) & Kommunikasie beamptes

021 554 1290 / 065 972 8215

kantoor@ngkbloubergstrand.co.za

Kantoorure: Dinsdag tot Vrydag – 08:30 tot 12:30

Die kerkkantoor is as’t ware die ingangsportaal vir ‘n verskeidenheid dienste aan die gemeente en publiek. Die pad van koördinasie vir troues, begrafnisse, pretstap, kerssangdiens, gassprekers, uitreik na behoeftiges, die selgroepe, opdatering van kontakbesonderhede & verjaardae, die webwerf, nuwe intrekkers en alle aspekte rondom ‘n gewone Sondagdiens loop hierdeur.

Lienie en Franselene is die hartklop van hierdie kantoor en hoor elkeen se storie met belangstelling aan. In kort is Lienie die administratiewe beampte wat ons kontak wanneer ons die saal of kerk wil bespreek en ander logistieke reëlings tref, terwyl Franselene as kommunikasie beampte meeste van haar tyd spandeer aan die bemarkingaspekte van die kerk, webtuiste, funksies, algemene kommunikasie, en kerkkalender.

Maatskaplik

Gemeenskapsontwikkeling

Thamar Jacobs

Maatskaplike werker (BMD)

Thamar het in die Kaap grootgeword, en maatskaplike werk by Hugenote Kollege en UNISA gestudeer. Haar pad hierna het ‘n paar draaie gestap onder andere deur die Suid Afrikaanse Geneeskundige Dienste, Dowe Federasie van Suid Afrika, Netcare en Life Path Health Group.

In 2009 word sy as die tweede maatskaplike werker van  die NG Kerk Bloubergstrand aangestel, en in 2011 word die maatskaplike werk kantoor as ‘n NPO afgestig; naamlik Bloubergstrand Maatskaplike Dienste (BMD).

Niel Steyn

Gemeenskapsontwikkeling (Isibindi)

084 688 1080.
niel@isibindi.org.za

Niel het skoolgegaan in Oudtshoorn en Worcester en teologie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Dis hier waar hy ’n besondere hart vir die mees weerloses in die gemeenskap ontwikkel het en besluit het om sy bediening spesifiek op die gemeenskap te fokus.

In 2013 het hy die eerste Echo huis in die Kaap begin. Echo is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gefokus is om jongmense tussen 18 en 25 ’n oorgangsplek te bied van waar hulle die lewe kan betree. (lees meer oor Echo hier). Hy is in 2016 by Table View Gemeente bevestig, in samewerking met Bloubergstrand Gemeente, met ‘n fokus op gemeenskapsontwikkeling. Dit beteken dat hy veral fokus op hawelose mense en persone in nood sonder enige heenkome.

In 2020 kry hulle organisasie ‘n nuwe naam: Isibindi. (http://www.isibindi.org.za)  Isibindi werk steeds nou saam met Echo, maar het intussen ook ‘n nasorg en koshuis vir skoolgaande leerders begin.

Niel geniet enige buite sport. Hy ry graag bergfiets, kite surf, doen trail running en hou van stap saam met sy gesin. Wanneer hy kans kry vir vakansie-hou, geniet hy dit om op afgeleë plekke te gaan kamp.

Kerkraad:

Anlé Britz, Thinus Brits, Elmarie Dercksen, Stefan de Klerk, Petra Van Vuuren, Marelise Brand, Christallo Triantafillo, Pieter Raubenheimer, Lienie Watkins, Jacques Labuschagne, Roodt Griesel, Karla Cilliers, Cornie Stols, Anne-marie Venter, Francois du Toit, Thamar Jacobs, Celesté Meyburgh, Franselene Krause

Nie op foto nie: Juli Killian en Niel Steyn

 

© NGKERK BLOUBERGSTRAND.
Alle reg voorbehou.

Wie is ons?

Die NG Kerk Bloubergstrand is ‘n inklusiewe, Christelike geloofsgemeenskap met ons wortels in die gereformeerde tradisie.
Ons hou vas aan die genade met ons oë en hande na buite.

Scroll to Top