Missie Japan is ‘n gesamentlike getuienisaksie van die NG Kerk familie, in noue vennootskap met die Reformed Church in Japan. Dit is ‘n vrywillige geloofsaksie wat ondersteun word deur individue, groepe, gemeentes en wyer kerkverbande regoor die wêreld. Stéphan van der Watt is sendeling-predikant van die Reformed Church in Japan. Hulle bedieningsfokus is tans gerig op die Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool, asook Shikoku-eiland.

Hoe om betrokke te raak

  • Teken in vir die nuusbrief
  • Lewer ’n finansiële bydrae

Besoek aan SA

Ons beplande besoek aan SA is uitgestel na 2021, DV. Omdat ons nie nou in persoon dit kan doen nie, deel ek ‘n 5-minute video as terugvoer oor ons werk en lewe hier. Dit is net voor die aanvang van die pandemie saamgestel. Indien moontlik, kan jy dit gerus verder deel, asseblief. In julle gemeente se aanlyn erediens of dalk via WhatsApp met andere.

Gebedsversoeke

  • Vir reddingswerkers en vir dié wat getref is deur vloede in Japan.
  • Dank die Here vir Sy sorg en vir ons gesondheid t.m.v. Covid-19. 
  • Bid vir ontvanklikheid in ons buurt vir die hervat van bedieninge by Kita Kobe gemeente (kinder-fokus). 
  • Vir Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en Nadine se pa se herstel (hy is steeds in die hospitaal).
  • Gys en Linda Olivier se werk as Engelse onderwysers in Kochi.
  • KRTS se studente wat landwyd uitgeplaas is vir gemeente-werk in Jul-Aug.
  • Missie Japan se bestuur – almal word diep geraak deur Covid-19 uitdagings.
  • Vir rus en herstel tydens ons verlof by die sendeling-oord naby Sendai, 13 Jul – 7 Aug.

Storie van Hoop

In verwondering oor die Lewe (en die Gees) 

Die wêreld van Beethoven se strykkwartet – nádat hy sy negende simfonie en Missa Solemnis geskryf het, m.a.w. vandat hy Opera 27 gekomponeer het tot kort voor sy dood op 56-jarige ouderdom – het my aangegryp en gevange geneem. Ek wou meer as net sy bladmusiek ken, ek wou ook sy musiekteorie navors. Verder wou ek Beethoven se eie briewe lees, meer nog, ek wou sy gespreksboeke bestudeer wat geskryf is ná sy gehoorverlies. Ek het sonder aarseling gekies om Duitste letterkunde op universiteit te gaan studeer. Maar ná dit alles het net die verwondering vir die raaiselagtige meesterstuk self oorgebly. Ek was oortuig dat my lewe sinloos is, buiten om my eie kunswerke by sy komposisies te voeg. Maar ek het geen musikale vermoë gehad nie. Die enigste “instrument” wat ek kon gebruik, was Japannees. Daar was geen ander weg vir my om op Beethoven se laaste musiekwerke te reageer, as deur die saamvlans van (Japannese) woorde nie.

Daarom het ek begin gedigte skryf. Ek het hedendaagse Franse en Engelse gedigte nagevors, maar wat telkemale soos ‘n paal bo water voor my kom verskyn het, was die naam van die digter Paul Celan. Hy was ‘n Jood wat sy lewensmaat, alle familie en uiteindelik sy lewe in Auschwitz verloor het. In sy gedigte, wat uiting gee aan die uiterstes van die menslike siel, verskyn Joodse godsdienstige sowel as Jiddisje taal (‘n Duitse dialek van o.a. Hebreeus wat deur Jode in konsentrasiekampe gebruik is). Ek het in Tokio‘n sinagoge gaan opsoek waar Jode van regoor die wêreld bymekaar kom. Daar het ek in aanraking gekom met die verskynsel van mense wat God aanbid en dié keer ‘n ander (tweede) tipe verwondering beleef as met Beethoven. Ek was diep onder die indruk: hiérdie is mense se skeppingsdoel! Ek het hulle dadelik dadelik diep leer ken en was gedetermineerd om in hulle moedertaal vir hulle gedigte te skryf. Ek kon egter nie in Japan self Jiddisj aanleer nie, maar is met ‘n beurs uit Israel befonds om as uitruilstudent in Jerusalem te gaan studeer.

By die Hebreeuse universiteit het ek Jiddisje literatuur deeglik onder die knie gekry, terwyl ek Japannese literatuur daar aangebied het. Na‘n paar jaar daar het ek op ‘n dag by die universiteit se boekwinkel op ‘n Hebreeuse vertaling van die Bybelse Nuwe Testament afgekom, wat as deel van die leermateriaal opgestapel gelê het.  

As ek nou daaraan terugdink, is dit asof ‘n onsigbare Krag in my aan die werk was. Ek het die Bybel opgetel, sonder om verder te dink. My oog het by die Romeine brief vasgehaak. Die Messias het gekom, lees ek toe. Ek het jare lank as ‘n lid van die sinagoge geleef. Ek is selfs later besny, het God ‘as Jood’aanbid en het my voorgeneem om in Jerusalem by die Hebreeuse Universiteit my laaste asem uit te blaas, verál synde ek die Jode se hartstaal aangeleer het en daarin aangehou het om ter ere van Beethoven te bly dig (in Jiddisj). Maar nietemin, die Messias het reeds gekom! As dit waar is, het alles mos verander! Van die volgende dag af het ek by Golgota en Getsemane begin rondwandel. Vóórheen het die plekke vir my geen betekenis gedra nie. Tóg was die plekke tegelyk vir my oorbekend, maar ek kon glad nie begrip wat nou eintlik regtig daar plaasgevind het en verder … presies hoekom dít alles my siel só diep geraak het nie. Daarna het ek byna daagliks in die Church of the Holy Sepulchre se een hoek onopsigtelik gaan hurk. 

Die priester daar het my wel raakgesien en my op ‘n dag laat hoor, “ek sien jy kom gereeld hier, nê.” Uiteindelik het ons gesprekke gedraai rondom voorbereidings om gedoop te word. Ek sou in die Jordaan rivier gedoop word, maar op daardie Pinksterdag was daar ‘n vloed en daarom was dit te gevaarlik. Mense het die vorige dag selfs daar verdrink. Daarom is ek toe in die kerk gedoop en het ek daar ‘n lidmaat geword. Die Priester het met trane in sy oë oor my verhaal vol worsteling die volgende gesê: “Pinksterdag se viering is juis om die krag van God se Gees te herken in jou eie lewensverhaal”, en daarna my regterhand met albei sy hande so styf vasgedruk dat dit omtrent begin pyn het.   

Daarna het my vreugde om Japannese literatuur vir die Jode te onderrig skielik verdwyn. Die komposisie van my Jiddisje gedigte aan hulle het opgedroog. Ek het begeer om te Nuwe Testament te bestudeer, méér as om Beethoven se simfomieë of vriendskappe met Jiddisje na te jaag. My begeerte was om my lewe oor te gee aan die Messias wat gekom het!

My eienaardige getuienis het – sonder my medewete – die ore van die destydse dekaan van Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool (KRTS) bereik. Al was ek eintlik nooit van plan om terug te keer na Japan nie, het ek ironies genoeg by KRTS ingeskryf.

Ek is tans ‘n leraar van die RCJ (Reformed Church in Japan). Dis my 56ste lewensjaar, dieselfde ouderdom waarin Beethoven gesterf het. Uiteindelik kon ek nie my eie kunswerke by sy komposisies voeg nie. Maar nóú leef ek saam met die Messias, in hierdie 56ste jaar van my lewe. Wat beteken hierdie vreemde verhaal van my nou eintlik? As dit ‘n kortverhaal genoem kan word, is dit maar lomp en minderwaardig. MAAR, as dit waar is wat die priester van die Jerusalem kerk gesê het, is dit inderdaad ‘n verhaal deur die krag van die Heilige Gees! 

Ek onthou pal dat ek ‘n derde verwondering gegun is. Want die ‘Skrywer’ van my lewe is God self. Ek kan nie anders nie as om diep in my binneste te aanvaar: my 56-jarige verhaal (history) is Sy verhaal (“Hisstory) !

Ds. Junya Akaishi en sy vrou Megumi

Geskryf deur Ds. Junya Akaishi (vertaal deur Stéphan van der Watt)

Leraar van die RCJ Itami gemeente in Osaka, Japan

Deeltydse dosent in Hebreeus en Ou Testament by KRTS

© NGKERK BLOUBERGSTRAND.
Alle reg voorbehou.

Wie is ons?

Die NG Kerk Bloubergstrand is ‘n inklusiewe, Christelike geloofsgemeenskap met ons wortels in die gereformeerde tradisie.
Ons hou vas aan die genade met ons oë en hande na buite.

Scroll to Top